Tuesday, September 20, 2011

by pramberg blêr 'n moflam

deur Boerneef

By Pramberg blêr 'n moflam
van hongerte en dors
by Pramberg vrek 'n moflam
dit is vanjaar die stryk
sny keelaf wat nog lewe
dis hoeka sukke tyd
by Pramberg blêr geen moflam
maar die jakkals hou jolyt

Saturday, September 17, 2011

bitterbessie dagbreek

deur Ingrid Jonker

Bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
'n spieel het gebreek
tussen my en hom

Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van sy woorde af

Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed

Pappegaai- bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroe
weer die koggel kry

Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son

Friday, September 16, 2011

o die pyn gedagte

deur Totius

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .
dit brand soos 'n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan
die skadu's word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg voort.

Maar daar skiet aldeur 'n pyn in my hart,
so, dat my lewe se glans verdwyn;
Jou kind is dood met 'n vreeslike dood!
En – ek gryp my bors van die pyn.

O Die bliksemgedagte! . . . Ja, lieflingskind,
een straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos 'n vlindertjie,
sy't lugtig omheen geswerf;
'n asempie wind kon haar vlerkies breek
en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis een uit die tienduisend-tal,
en ag, dat dit sy was, en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .
dit brand soos 'n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Thursday, September 15, 2011

amakeia

deur AG Visser

In die skadu van die berge,
bos-beskut aan alle kant,
staan alleen die hartbeeshuisie
op die grens van Kafferland.

Saggies neurie Amakeia
op die wal van Kei-rivier,
tot hy slaap, die tere wiggie
van die blanke pionier:
"Stil maar, stil maar, stil Babani;
kyk hoe blink die awendster.
Niemand sal vir kindjie slaan nie -
stil maar, al is Mammie ver."


Amakeia had belowe
toe haar nonna sterwend was,
om die hulpelose kindjie
tot hy groot was, op te pas.

Liefd'ryk sorg sy vir die wit kind,
tot vir hom die lewenslig
straal uit aia Amakeia's
vrind'lik-troue swart gesig.

Onheilspellend sien sy tekens,
oorlog kom daar in die land:
Snel die inval, huis en hawe
uitgemoor en afgebrand.

Selfvergetend, doodveragtend,
met die wit kind op haar rug,
na die Amatola-berge
het sy ylings heen gevlug.

"Stil maar, stil maar, pikanienie;
oor die bergtop rys die maan.
Niemand sal vir ons hier sien nie;
môre sal ons huis toe gaan."


Ag, dat oë van verspieders
ook haar skuilplaas moes ontdek!
"Spaar hom, hy's so klein nog," smeek sy
met die hande uitgestrek.

Woedend tier die wilde bende:
"Sterf of gee die wit kind hier!"
"Oor my lewelose liggaam ..."

antwoord Amakeia fier.

"My belofte aan my nonna -
beste wat daar ooit nog was -
waar hy gaan, moet Amakeia
saamgaan om hom op te pas."


"Is jul lewend nie te skei nie,
bly dan in die dood vereen -
kort proses met haar, MaXhosas,
laat die blink asgaaie reën!"


In die Amatola-klowe
sing nog net die winterwind
deur die riete in die maanskyn:
"Tula - Tula - stil, my kind!"

Tuesday, September 13, 2011

ek kerf 'n vallei

deur Germandt Geldenhuys

'n vallei gaap
'n letsel voor my
met 'n stiknag diepte
en net die gedagte van wat was

en ek wou gly,
die wal is glad
en gly is moontlik,
en maklik
om voor my
my moordkuil
te omhels
en salig in sy spyt te slaap

en ek het gegly
en ek val

ek skree na jou aan die ander wal
maar my eggo's kom terug
dan spring ek, gil ek, pleit ek voor
jou oë; 'n nou en skrale brug

en waarom het die lig jou oë beval
as jy sidder oor my middernag
eers later sal ek die lig ook haal
en sal my skadu's ook verval

en dan sal ek opnuut probeer,
na telke paadjie, berg en dal
die waarheid tussen my en jou:
-is dalk nog nie vergruis-

maar dan sal 'n stem uit die diepte skree

die vallei gekerf
word alleen deurkruis.

die vlinder

deur Germandt Geldenhuys

eergister se spoke
draai rond en rond in mallemeule
en die stroopsoet lug
bedwelm hom
met twee vingers druk hy

die vlinder is dood
waar vroeër die kleur
is strak en koud

eens die vrolik vlinder
nou die karkas skaars gespaar
stadig stap hy weg
met pikswart oë in vlam

die vlinder is dood
vertrap vermorsel en oop

die stilte is 'n koue lem
soos voetstappe wat sweef
en erens lê 'n offergawe
erens wou 'n vlinder leef

en God sit neer sy hand

al is die vlinder-graf dan klaar
die grond is skaars nog koud
maar ewig rus die vaderhand
al is die vlinder dood.

die seun sal altyd vlinders vang
in die rondomtalie spel
waar die einde altyd donker is
die paadjie - 'n bitter hel

en eendag sal die soet lug verdwyn
en die oop velde en die maanlig selfs met dagbreek-straal
verkluim

sal hy omkyk
die vlinders sien
die droë wind proe
die nugter sonskyn ruik

sal hy sagkens streel en pleitend vra
sy hoof na die hemel lig
en uitskree na 'n grote God
wat hy jare terug verdoof het